Met haar sonskyn-glimlag vind sy haar pad,
soos die vuur van hoop binne haar brand.
Die stormsee is weg gesteek in haar hare
en sy weet, ‘n vegtersgees klop in haar are.
Opgewonde bou sy nuwe drome met woorde,
ken geen perke: die kreatiwiteit in al sy soorte.
Haar vrees haar kompas; gereed en op merke,
terwyl sy haar hartseer koester soos vlerke.
Geen wind en geen storm sal haar nou keer,
al weet sy van die oorlog wat wag in elke tree.
Skoonheid in swaarkry; sy staan swaard in hand
vir dié oomblik – tyd van twyfel in ewige stilstand.

© Ilka Steyn, 2016. Alle regte voorbehou.