Ek voer laat-aand gesprekke met die sekelmaan,
vertel hom van my drome se donker waters
en suutjies kruip die gety van gedagtes nader.
Angsbevange in hierdie oomblik van my stilte,
want ek weet, my siel, nog altyd jou hemelruim
wat vir jou soos sterre skyn met helder hoop.
Ek verlang na laat-aand gesprekke met die sekelmaan
en hoe ek kaalvoet kan weg hardloop van my bestaan.
Ek wil opnuut kan luister hoe die wind vir my sing –
sonder dat hierdie vrees van jou my binnedring.
Maar ek spartel; ek verdrink in my donker waters
en ek besef, ek is die ontwerper van my eie verlies.
© Ilka Steyn, 2016. Alle regte voorbehou.