Die partytjie is verby.
Die musiek het gaan lê en die mense het verdwyn.
Die tafels staan vol verlate wynglase sonder base
en die laaste tekens van vreugde vlug saam die besem.
Dit is nou stil; dis oorverdowend stil.
En dit is ek en die gefluister van gedagtes wat gil,
in dié afwesigheid van nou.
In hierdie velate woestyn van die “was” van menswees,
maak ek elke boks toe – geen meer teken van gelukkig wees.
Die konfetti-herinneringe word deel van die verlede:
‘n nuwe storie wat begin met lank, lank gelede.
Die klank van opwinding nou vervang deur dié van vrede:
my verlange stilte; die oorverdowende stilte.
En dit is weer ek en die gefluister van gedagtes wat gil –
in die afwesigheid van nóú.
Die partytjie is verby.
© Ilka Steyn, 2017. Alle regte voorbehou.